WES-KAAP. – Gayton McKenzie, die minister van sport, kuns en kultuur, het op 16 Desember gesê: Vandag behoort die laaste keer te wees dat ons as ’n nasie afsonderlik vier. Die dag heet Versoeningsdag met ’n rede. Hoewel ons vandag groot vordering gemaak het deur mekaar se vieringe by te woon, is dit steeds nie ideaal nie. Ons is een nasie. Ons is die kinders van Nelson Mandela. Laat ons vorentoe saam vier, saam bou en saam versoen.

Die minister het Zoeloe-vieringe op Versoeningsdag bygewoon en gesê die Zoeloe-kultuur is mooi. By die Voortrekkermonument het 40 000 besoekers Geloftevieringe vir ‘n 187ste keer as ‘n Sabbat-dankdag gevier.

Mckenzie het Donderdag voorts in ‘n sosialemediaplasing gesê die manier waarop Geloftedag en Versoeningsdag op 16 Desember gevier word, bly ’n toets vir ware nasionale eenheid. “Ons moet besluit: is ons een nasie of twee? As ons een is, moet ons ook saam vier,” het hy gesê.

Volgens hom is versoening moeilik, maar onontbeerlik en kan dit nie eensydig wees as Suid-Afrika as een nasie wil voortbeweeg nie. McKenzie het gesê hy het sterk negatiewe reaksie ontvang ná sy oproep dat Versoeningsdag as ’n verenigende nasionale viering benader moet word, eerder as ’n dag wat historiese verdelings verdiep. Hy het dit bevraagteken waarom swart Suid-Afrikaners dikwels aangemoedig word om die verlede te vergeet, terwyl sommige wit Suid-Afrikaners steeds vashou aan die Voortrekkerbelofte.

“As swart mense sou aandring dat Menseregtedag weer Sharpeville-dag genoem word, sou dit ook pynlike herinneringe heropen,” het McKenzie gesê. Hy het daarop gewys dat baie swart Suid-Afrikaners reeds historiese benamings ter wille van versoening prysgegee het. Volgens McKenzie gaan dit nie daaroor dat mense nie God mag dank nie, maar dat dankbaarheid gerig moet wees op eenheid en vrede en nie op historiese oorwinnings wat verskillend deur gemeenskappe beleef word nie. Hy het gesê die Zoeloes het ook hul eie herinnering aan 16 Desember, wat as Dingaansdag bekendstaan.

Die minister het benadruk dat versoening nie van een groep alleen kan vereis word nie.

Lees die plasings hier onder:

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Source: https://nuusflits.com/mckenzie-oor-gelofte-en-versoeningsdag-ons-moet-besluit-is-ons-een-nasie-of-twee/